Beskrywing: Studente van die Skrif sal gou besef dat God deur middel van verbonde die voorwaardes van Sy wil aan die aartsvaders bekend gemaak het. God het reeds agt verskillende verbonde met verskillende mense en een bevolkingsgroep, die Jode, gemaak. Hiermee kortliks opgesom: 1.) Die Edense verbond (Gen. 1:26) bied voorwaardes vir lewe in onskuld (geen sonde). 2.) Die Adamitiese verbond (Gen. 3:14) bied voorwaardes vir die lewe na die sondeval met die belofte van ‘n Verlosser (Gen. 3:15). 3.) Die Noagse verbond bied voorwaardes vir die lewe na die sondvloed onder menslike regerings (Gen. 9:1). 4.) Die Abrahamse verbond (Gen_15:18) is die vorming van die verbondsvolk Israel en bevestig aan hulle die sekerheid van die koms van ‘n Verlosser uit hulle volk. 5.) Die Mosaïese verbond (Eks. 19:25) veroordeel alle mense as sondaars wat sonder die heerlikheid van God is deur middel van die volmaakte wet van God. 6.) Die Palestynse verbond (Deut. 30:3) bied voorwaardes vir die finale redding en herstel van letterlike Israel. 7.) Die Dawids verbond (2 Sam. 7:16) bied die voorwaardes van die koninklike (Messiaanse) lyn van Dawid wat in Jesus Christus vervul word (Matt. 1:1; Luk. 1:31-33; Rom. 1:3) en bepaal dat daar ‘n letterlike heerskappy van Christus op aarde sal wees (2 Sam. 7:8-17; Sag. 12:8; Luk. 1:31-33; Hand. 15:14-17; 1 Kor. 15:24). 8.) Die laaste en mees belangrike is die Nuwe Verbond (sien verwysings hierbo) wat rus op die soendood van Christus en die belofte en seëning van die ewige lewe beskikbaar stel aan almal wat tot ware reddende geloof in Jesus Christus kom. Dit is ‘n onvoorwaardelike verbond wat op grond van God se genade voorsien dat enige persoon wat tot geloof kom, sonder verdienste kan toetree tot die verbond. Onder die voorwaardes van die Nuwe Verbond, is die beginsel van die gehoorsaamheid aan God se wil ‘n innerlike werk van die hart volgens die “wet van Christus” (1 Kor. 9:21). Onder die Nuwe Verbond leef die Christen nie volgens die ou verbond wet van Moses (tien gebooie) nie, maar volgens die nuwe verbond wet van Christus (Gal. 6:2). Die wet van Christus maak nie die ou verbond wet ongeldig of vervang dit nie, maar deur die liefdesbeginsel van die lewe van Jesus Christus vervul dit die ou verbond wet (Rom. 13:7; 2 Joh. 1:5), maak ons ook vry van die ou verbond wet van die sonde en die dood (Rom. 8:2) en deur inwoning van die Gees voldoen dit aan die geregtigheid van die ou verbond wet (Rom. 8:2-4; Gal. 5:16-18; 2 Tim. 3:16).
(Bronne: CMI/OBK Biblioteek; Scofield Reference Bible Notes - e-sword).
No comments:
Post a Comment