WYSHEID
(Grieks – sophia) wisdom Verwysing: Spr. 4:11; Spr. 8:12; 10:8; Job 28:28; Spr. 9:10; Luk. 11:49;
1 Kor. 1:19-20; Kol. 2:9; Matt. 13:54; Jak. 11:25; 1 Kor. 2:4-7 Beskrywing: In die O.T. word die woord wysheid gebruik om menslike
intellektuele vermoë te beskryf en goddelike onderskeidingsvermoë. Goddelike
wysheid in die O.T. wat as insig wat van God afkomstig is bekend staan lei tot
‘n goeie en bevredigende leefwyse. In
alle gevalle impliseer goddelike wysheid dat die mens God se opdragte volg
(Spr. 4:11), dat die mens verstandig en oordeelkundig te werk gaan (Spr. 8:12;
10:8) en dat die persoon God vrees (Job 28:28; Spr. 9:10). Net God besit
volmaakte wysheid in die ware sin van die woord (Job. 12:13). Dit kan geensins
deur die mens se intellek of intelligensie geproduseer word nie (Job 28:12;
Pred. 7:23; Job 2:21) en die spotter sal dit nooit kan vind nie (Spr. 14:6).
God skenk goddelike wysheid aan die wat dit soek soos Hy wil hê hulle moet
(Spr. 2:6; Pred. 2:26). In die O.T. moet goddelike wysheid nie losgemaak word
van die praktiese implikasie vir dit vir die gelowige se leefwyse nie. Die ware
wyse man is dus die goeie mens wat aan God die regmatige plek in sy lewe gee. In die N.T. word wysheid onmiddellik toegeskryf aan God
as een van Sy karaktereienskappe (Luk. 11:49). Dit word verder uitgedruk as die
spesiale openbaring van God se wil aan die mens wat gedeeltelik verborge was, maar
nou geopenbaar is vir ons (1 Kor. 2:4-7). Kennis van en insig in die wil van
God (Matt. 13:54; Jak. 11:25) is wysheid. Die lewe van Jesus Christus is die
unieke menslike beliggaming van die wysheid van God (1 Kor. 1:19-20; Kol. 2:9)
en is vir ons die volmaakte bron van wysheid (1 Kor. 1:30) en die wil van God.
Die mens wat die lewe en leerstelling van Christus verstaan en uitleef, sal
wysheid bekom deur hierdie toepassing van God se wil.
No comments:
Post a Comment