Wednesday 16 July 2014

WYSHEID

(Grieks – sophia) wisdom Verwysing: Spr. 4:11; Spr. 8:12; 10:8; Job 28:28; Spr. 9:10; Luk. 11:49; 1 Kor. 1:19-20; Kol. 2:9; Matt. 13:54; Jak. 11:25; 1 Kor. 2:4-7 Beskrywing: In die O.T. word die woord wysheid gebruik om menslike intellektuele vermoë te beskryf en goddelike onderskeidingsvermoë. Goddelike wysheid in die O.T. wat as insig wat van God afkomstig is bekend staan lei tot ‘n goeie en bevredigende leefwyse.  In alle gevalle impliseer goddelike wysheid dat die mens God se opdragte volg (Spr. 4:11), dat die mens verstandig en oordeelkundig te werk gaan (Spr. 8:12; 10:8) en dat die persoon God vrees (Job 28:28; Spr. 9:10). Net God besit volmaakte wysheid in die ware sin van die woord (Job. 12:13). Dit kan geensins deur die mens se intellek of intelligensie geproduseer word nie (Job 28:12; Pred. 7:23; Job 2:21) en die spotter sal dit nooit kan vind nie (Spr. 14:6). God skenk goddelike wysheid aan die wat dit soek soos Hy wil hê hulle moet (Spr. 2:6; Pred. 2:26). In die O.T. moet goddelike wysheid nie losgemaak word van die praktiese implikasie vir dit vir die gelowige se leefwyse nie. Die ware wyse man is dus die goeie mens wat aan God die regmatige plek in sy lewe gee.   In die N.T.  word wysheid onmiddellik toegeskryf aan God as een van Sy karaktereienskappe (Luk. 11:49). Dit word verder uitgedruk as die spesiale openbaring van God se wil aan die mens wat gedeeltelik verborge was, maar nou geopenbaar is vir ons (1 Kor. 2:4-7). Kennis van en insig in die wil van God (Matt. 13:54; Jak. 11:25) is wysheid. Die lewe van Jesus Christus is die unieke menslike beliggaming van die wysheid van God (1 Kor. 1:19-20; Kol. 2:9) en is vir ons die volmaakte bron van wysheid (1 Kor. 1:30) en die wil van God. Die mens wat die lewe en leerstelling van Christus verstaan en uitleef, sal wysheid bekom deur hierdie toepassing van God se wil.   

Thursday 5 June 2014

NUWE VERBOND

Verwysing: O.T. - Jes. 55:3; 59:21; 61:8; Jer. 31:31; 32:40; Eseg. 34:25; 37:26; 37:26; Hosea 2:18. N.T. -  Matt. 26:28; Mark. 14:24; Luk. 22:20; Rom. 11:27; 1 Kor. 11:25; 2 Kor. 3:8; Heb. 8:10-15; 9:15; 10:16; 12:24; 13:20.

Beskrywing: Studente van die Skrif sal gou besef dat God deur middel van verbonde die voorwaardes van Sy wil aan die aartsvaders bekend gemaak het. God het reeds agt verskillende verbonde met verskillende mense en een bevolkingsgroep, die Jode, gemaak. Hiermee kortliks opgesom: 1.) Die Edense verbond (Gen. 1:26) bied voorwaardes vir lewe in onskuld (geen sonde). 2.) Die Adamitiese verbond (Gen. 3:14) bied voorwaardes vir die lewe na die sondeval met die belofte van ‘n Verlosser (Gen. 3:15). 3.) Die Noagse  verbond bied voorwaardes vir die lewe na die sondvloed onder menslike regerings  (Gen. 9:1). 4.) Die Abrahamse verbond (Gen_15:18) is die vorming van die verbondsvolk Israel en bevestig aan hulle die sekerheid van die koms van ‘n Verlosser uit hulle volk. 5.) Die Mosaïese verbond  (Eks. 19:25) veroordeel alle mense as sondaars wat sonder die heerlikheid van God is deur middel van die volmaakte wet van God. 6.) Die Palestynse verbond (Deut. 30:3) bied voorwaardes vir die finale redding en herstel van letterlike Israel. 7.) Die Dawids verbond (2 Sam. 7:16) bied die voorwaardes van die koninklike (Messiaanse) lyn van Dawid wat in Jesus Christus vervul word (Matt. 1:1; Luk. 1:31-33; Rom. 1:3) en bepaal dat daar ‘n letterlike heerskappy van Christus op aarde sal wees (2 Sam. 7:8-17; Sag. 12:8; Luk. 1:31-33; Hand. 15:14-17; 1 Kor. 15:24). 8.) Die laaste en mees belangrike is die Nuwe Verbond (sien verwysings hierbo) wat rus op die soendood van Christus en die belofte en seëning van die ewige lewe beskikbaar stel aan almal wat tot ware reddende geloof in Jesus Christus kom. Dit is ‘n onvoorwaardelike verbond wat op grond van God se genade voorsien dat enige persoon wat tot geloof kom, sonder verdienste kan toetree tot die verbond.  Onder die voorwaardes van die Nuwe Verbond, is die beginsel van die gehoorsaamheid aan God se wil ‘n innerlike werk van die hart volgens die “wet van Christus” (1 Kor. 9:21). Onder die Nuwe Verbond leef die Christen nie volgens die ou verbond wet van Moses (tien gebooie) nie, maar volgens die nuwe verbond wet van Christus (Gal. 6:2). Die wet van Christus maak nie die ou verbond wet ongeldig of vervang dit nie, maar deur die liefdesbeginsel van die lewe van Jesus Christus vervul dit die ou verbond wet (Rom. 13:7; 2 Joh. 1:5), maak ons ook vry van die ou verbond wet van die sonde en die dood (Rom. 8:2) en deur inwoning van die Gees voldoen dit aan die geregtigheid van die ou verbond wet (Rom. 8:2-4; Gal. 5:16-18; 2 Tim. 3:16). 
(Bronne: CMI/OBK Biblioteek; Scofield Reference Bible Notes - e-sword).

Thursday 29 May 2014

A-MILLENNIALISME

Algemene gebruik: anti-chiliasme

Verwysing: Die woord kom nie so voor in die Bybel nie.

Beskrywing: Die woord A-millennialisme beskryf die teologiese beskouing rakende die leerstellings van die gebeure van die eindtye (eskatologie). Die konsep kan teruggetrek word na Augustinus van Hippo, ‘n teoloog wat in die vyfde eeu geskryf het en wat hierdie beskouing gehuldig het. Die woord A-millennialisme wat letterlik "geen millennium" beteken, kom van die term anti-chiliasme af en ontken in wese dat daar ‘n letterlike Messiaanse koninkryk op aarde sal wees. Volgens hierdie beskouing sal profetiese tyd eindig met die wederkoms van Jesus Christus om te oordeel tussen gelowig en ongelowig en om die nuwe hemele ne nuwe aarde in te lyf. Daar word dus geen voorsiening gemaak vir 'n vrederyk koninkryk op aarde nie. Dit is presies die teenoorgestelde as die pre-millennialistiese beskouing van die eindtye wat leer dat Jesus Christus, ná die groot verdrukking en tweede koms van Jesus Christus, 'n letterlike vrederyk heerskappy op aarde sal vestig wat vir eenduisend jaar sal duur. Volgens pre-millennialisme sal die finale oordeel dan eers plaasvind.      

[Ecob, J.R. 2006. A-millennialism Weighed and Found Wanting. Marayong, New South Wales: Herald of Hope Publications. ]  
[Pentecost, J.D. 1964. Tings to Come. A study in Biblical Eschatology. Grand Rapids, Michigan: Durham Publishing Company. p. 372]
[Walvoord, J.F. 1948. Bibliotheca Sacra. The Millennial Issue in Modern Theology, 106:44]  

DOOP (van gelowiges)

Grieks – baptizō - onderdompel

Verwysing: Matt. 28:18; Joh. 3:23; Hand. 2:41; 8:36-39;Rom. 6:3-6

Beskrywing: Vir ons is die leer oor die doop van gelowiges nie ‘n ingewikkelde of komplekse onderwerp nie, maar eerder ‘n saak van geloof in die Woord van God. Ons glo dat die Bybel ons leer dat die doop van die gelowige ‘n openbare getuienis en afbeelding is van die gelowige se vereenselwiging met die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus Christus.  Met die doop maak die gelowige ‘n bewustelike en openbare verklaring voor getuies van die afsterwe van die ou mens en die wedergeboorte van die nuwe mens, wat nou in Christus is (Rom. 6:3-6). Wie mag gedoop word? Die doop is die onder-water-dompeling van ‘n gelowige man vrou of kind, wat die evangelie verstaan en reeds vrywilliglik sy of haar geloof in die Here Jesus teenoor ander mense bely het (Hand. 8:36-39; Joh. 3:23; Rom. 6:3-5). Kan die besprinkeling van babas hierdie doop wees? Tot en met die derde eeu na Christus is daar geen enkele besprinkeling toegepas nie. Die Nuwe Testamentiese kerk het soos Hand. 2:38 verklaar die onderdompeling gebruik om ‘n bekeerling te doop. Die oorsprong van die leer van die babadoop is moeilik om na te spoor, maar die geskiedenis lei ons om te dink dat dit in die raadsbesluite van die valse Rooms Katolieke stelsel begin het en kan nie as die Bybelse instelling van die doop aanvaar word nie. Die Gereformeerde denominasies leer as ‘n deel van die verbondsteologie dat die babadoop of besprinkeling die plaasvervanger is vir die Joodse besnydenis, maar hierdie leerstelling kan egter nie letterlik so uit die Bybel gestaaf word soos die doop van gelowiges nie. Watter metode van doop moet ons volg en wie sal dit uitvoer? Die ware doop is die doop van ‘n nuwe bekeerde gelowige en vind plaas in die plaaslike gemeente deur middel van ‘n eenmalige onderdompeling van die persoon in water, terwyl die persoon wat die doop uitvoer verklaar dat dit in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoen word (Matt. 28:19; Hand. 8:38-39). Die Bybel leer ons dat die apostels en diakens mense gedoop het. Wat van die doop van die Heilige Gees? Daar moet ‘n duidelike onderskeid getref word tussen die waterdoop van die gelowige en die geestelike doop van die Heilige Gees (Rom. 8:9; 1 Kor. 12:3,13). Die doop van die Heilige Gees vind eenmalig en oombliklik plaas wanneer die gelowige by wedergeboorte die inwoning van die Heilige Gees deelagtig word en die Heilige Gees ons dan ook in die liggaam van Jesus Christus, die kerk, plaas (Rom. 8:8-9; 1 Pet. 1:2; Hand. 11:16; Tit. 3:5). Wat beteken die doop? Dat die gelowige nie skaam is om hom of haar te vereenselwig met die sterwe, die begrafnis en die opstandingslewe van die Here Jesus Christus nie. Dit is vir ons ‘n openbare getuienis dat ons Jesus Christus as persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar het en nou deel in die nuwe lewe in Christus Jesus. Is daar enige verskil tussen die doop waarmee Jesus Christus gedoop is en die doop van Johannes die Doper en die doop van gelowiges? Johannes se doop was ‘n doop tot bekering en vergewing van sondes. Jesus het nooit sonde gedoen nie en daarom kon die betekenis van Jesus se doop deur Johannes die Doper nie dieselfde wees nie. Jesus se doop het Sy bediening bevestig, en die verklaring van God uit die hemel was ‘n teken dat Jesus se bediening op aarde begin het. Die doop van gelowiges is nie dieselfde as een van die bogenoemde nie, maar wel ‘n publieke demonstrasie van die vereenselwiging van die gelowige met die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus Christus in ‘n nuwe lewe. Het die doop enige inherente reddingskrag of spesiale seëning? Die doop is nie in staat of bekwaam om ons te red nie en is ook nie ‘n afwassing van ons sondes nie. Dit het geen spesiale seëning nie en het daarom geen krag op sigself nie. Noag, soos met Abraham, se siele is gered soos alle gelowiges van alle tye alleenlik op grond van hulle geloof in God. Hulle is gered op grond van hulle geloof, terwyl die doop nie ter sprake was nie. (1 Pet. 3:18-20) Waarom moet ons gedoop word? Dit is vir die opregte gelowige ‘n stap in gehoorsaamheid aan en natuurlike uitvloeisel van die groot opdrag van Jesus Christus in Matt. 28:19. Dit word gedoen sodat ons daardeur kan getuig van ons eenheid met Christus Jesus en ons vereenselwiging met sy dood en opstanding (Hand. 2:41).

Enige persoon wat die evangelie van God se genade in die kruisdood van Christus Jesus as betaling vir individuele sonde verstaan en deur geloof tot bekering kom, kan vrywilliglik besluit om gedoop te word in die plaaslike gemeente.

Toepassing: Verstaan jy die betekenis van die doop vir jou lewe en Christelike getuienis? 

Sunday 16 March 2014

GETROUHEID

God is die toonbeeld van getrouheid. In die OT is Hy eerstens absoluut betroubaar, konsekwent en nie geneig tot willekeurigheid of wispelturigheid nie, want sy trou is groot (Klaag. 3:23), omvangryk (Ps. 36:5) en ewigdurend (Ps. 100:5) – soos ‘n Rots is Hy onwankelbaar (Deut. 32:4,15; Ps. 19:14). Hy is tweedens ‘n verbond houdende God (Deut. 7:9; Ps. 136) wat Sy genade beskikbaar stel, selfs in die slegste van omstandighede.

In die NT word die getrouheid van God (2 Tim. 2:13) ten eerste uitgebeeld in Sy waarborg dat Jesus ons sal bevriend (1 Kor. 1:9) en bewaring tot die wederkoms (1 Thess. 5:23,24); in die vervulling van Sy beloftes (2 Kor. 1:18; Heb. 10:23; 11:11); in die feit dat Hy ‘n helper is vir die wat ly (1 Pet. 4:19); in die feit dat Hy sonde vergewe (1 Joh. 1:9). Ten tweede, in Christus se voorbeeld (Heb. 2:17; 3:2; Openb. 1:5; 3:14; 19:11) en die Gees se vrugvolheid (Gal. 5:22).

Om dus getrou te wees beteken dus diensbaarheid (Matt. 25:21,23) rentmeesterskap (Luk. 12:42; 1 Kor. 4:2), vrugbare getuienis (Openb. 2:13) en betroubaarheid (1 Tim. 1:15; 3:1; 4:9; 2 Tim. 2:11; Tit. 3:8).

LYDSAAMHEID

Lydsaamheid in Engels is patience. Lydsaamheid kom ook in die Skrif voor as lankmoedigheid. Dit is een van die hoof eienskappe van God (Ek. 34:6; 1 Pet. 3:20; 2 Pet. 3:9; Rom. 15:5; 2 Thess. 3:5) en een van die eienskappe wat God in elke Christen se lewe wil inbou (Kol. 1:11; 1 Tim. 6:11; 2 Tim. 3:10; Jak. 1:2-4; 2 Pet. 1:6).

God se lankmoedigheid beteken dat Hy die aanbreek van die oordeelsdag, waarop Jesus Christus die wêreld volgens hulle werke sal oordeel, op so ‘n manier uitstel, dat dit meer mense kans gee om tot bekering te kom en volgens Sy wil te leef.

Dit is wat ons nodig het om geduldig deur verdrukking te gaan (Rom. 5:3-5), deur die Skrif wat aktief in ons lewens is (Rom. 15:4) en as die oog op Jesus gevestig word (Heb. 12:1-3). Lydsaamheid is nie passief nie (Fil. 3:12-14; 2 Kor. 4:16-18), maar besig met God se wil.

GETUIENIS

‘n Getuienis is dit wat Christene doen en sê aan mense wat nie Christene is nie. Dit is ander mense se opinie van hoe ons lewe. Die inhoud van ons getuienis, is die goeie nuus van Jesus Christus en Sy reddende genadewerk in ons lewens. Met ander woorde, die skildery van Jesus se lewe met ons lewens wat dit omraam.
 
Die Griekse woord is die woord wat ons as “martelaar” ken. In die eerste kerke was getuies van Jesus Christus martelaars, omdat die eerste Christene met hulle lewens getuig het dat Jesus hulle verander het en is vervolg en doodgemaak daarvoor.
 
Om te getuig is die verantwoordelikheid van alle Christene (Luk. 24:48; Hand. 1:8), om te vertel van Jesus se lewe en reddende werk (Hand. 10:39-41; 43; 2 Tim. 2:2; 1 Kor. 15;1-3), om nie bang te wees vir die gevolge vir ons getuienis nie (Matt. 10:48) en om deur die Heilige Gees gehelp te word (Heb. 2:3-4).
 
Weet jy hoe om te getuig?