Thursday, 29 May 2014

DOOP (van gelowiges)

Grieks – baptizō - onderdompel

Verwysing: Matt. 28:18; Joh. 3:23; Hand. 2:41; 8:36-39;Rom. 6:3-6

Beskrywing: Vir ons is die leer oor die doop van gelowiges nie ‘n ingewikkelde of komplekse onderwerp nie, maar eerder ‘n saak van geloof in die Woord van God. Ons glo dat die Bybel ons leer dat die doop van die gelowige ‘n openbare getuienis en afbeelding is van die gelowige se vereenselwiging met die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus Christus.  Met die doop maak die gelowige ‘n bewustelike en openbare verklaring voor getuies van die afsterwe van die ou mens en die wedergeboorte van die nuwe mens, wat nou in Christus is (Rom. 6:3-6). Wie mag gedoop word? Die doop is die onder-water-dompeling van ‘n gelowige man vrou of kind, wat die evangelie verstaan en reeds vrywilliglik sy of haar geloof in die Here Jesus teenoor ander mense bely het (Hand. 8:36-39; Joh. 3:23; Rom. 6:3-5). Kan die besprinkeling van babas hierdie doop wees? Tot en met die derde eeu na Christus is daar geen enkele besprinkeling toegepas nie. Die Nuwe Testamentiese kerk het soos Hand. 2:38 verklaar die onderdompeling gebruik om ‘n bekeerling te doop. Die oorsprong van die leer van die babadoop is moeilik om na te spoor, maar die geskiedenis lei ons om te dink dat dit in die raadsbesluite van die valse Rooms Katolieke stelsel begin het en kan nie as die Bybelse instelling van die doop aanvaar word nie. Die Gereformeerde denominasies leer as ‘n deel van die verbondsteologie dat die babadoop of besprinkeling die plaasvervanger is vir die Joodse besnydenis, maar hierdie leerstelling kan egter nie letterlik so uit die Bybel gestaaf word soos die doop van gelowiges nie. Watter metode van doop moet ons volg en wie sal dit uitvoer? Die ware doop is die doop van ‘n nuwe bekeerde gelowige en vind plaas in die plaaslike gemeente deur middel van ‘n eenmalige onderdompeling van die persoon in water, terwyl die persoon wat die doop uitvoer verklaar dat dit in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees gedoen word (Matt. 28:19; Hand. 8:38-39). Die Bybel leer ons dat die apostels en diakens mense gedoop het. Wat van die doop van die Heilige Gees? Daar moet ‘n duidelike onderskeid getref word tussen die waterdoop van die gelowige en die geestelike doop van die Heilige Gees (Rom. 8:9; 1 Kor. 12:3,13). Die doop van die Heilige Gees vind eenmalig en oombliklik plaas wanneer die gelowige by wedergeboorte die inwoning van die Heilige Gees deelagtig word en die Heilige Gees ons dan ook in die liggaam van Jesus Christus, die kerk, plaas (Rom. 8:8-9; 1 Pet. 1:2; Hand. 11:16; Tit. 3:5). Wat beteken die doop? Dat die gelowige nie skaam is om hom of haar te vereenselwig met die sterwe, die begrafnis en die opstandingslewe van die Here Jesus Christus nie. Dit is vir ons ‘n openbare getuienis dat ons Jesus Christus as persoonlike Verlosser en Saligmaker aanvaar het en nou deel in die nuwe lewe in Christus Jesus. Is daar enige verskil tussen die doop waarmee Jesus Christus gedoop is en die doop van Johannes die Doper en die doop van gelowiges? Johannes se doop was ‘n doop tot bekering en vergewing van sondes. Jesus het nooit sonde gedoen nie en daarom kon die betekenis van Jesus se doop deur Johannes die Doper nie dieselfde wees nie. Jesus se doop het Sy bediening bevestig, en die verklaring van God uit die hemel was ‘n teken dat Jesus se bediening op aarde begin het. Die doop van gelowiges is nie dieselfde as een van die bogenoemde nie, maar wel ‘n publieke demonstrasie van die vereenselwiging van die gelowige met die dood, begrafnis en opstanding van die Here Jesus Christus in ‘n nuwe lewe. Het die doop enige inherente reddingskrag of spesiale seëning? Die doop is nie in staat of bekwaam om ons te red nie en is ook nie ‘n afwassing van ons sondes nie. Dit het geen spesiale seëning nie en het daarom geen krag op sigself nie. Noag, soos met Abraham, se siele is gered soos alle gelowiges van alle tye alleenlik op grond van hulle geloof in God. Hulle is gered op grond van hulle geloof, terwyl die doop nie ter sprake was nie. (1 Pet. 3:18-20) Waarom moet ons gedoop word? Dit is vir die opregte gelowige ‘n stap in gehoorsaamheid aan en natuurlike uitvloeisel van die groot opdrag van Jesus Christus in Matt. 28:19. Dit word gedoen sodat ons daardeur kan getuig van ons eenheid met Christus Jesus en ons vereenselwiging met sy dood en opstanding (Hand. 2:41).

Enige persoon wat die evangelie van God se genade in die kruisdood van Christus Jesus as betaling vir individuele sonde verstaan en deur geloof tot bekering kom, kan vrywilliglik besluit om gedoop te word in die plaaslike gemeente.

Toepassing: Verstaan jy die betekenis van die doop vir jou lewe en Christelike getuienis? 

No comments:

Post a Comment